Berg is die naam van ‘n graafskap in die hoek van Gelderland wat die gebied van die teenswoordige Heerenberg insluit, sowel as ‘n gebied wat tans in Duitsland geleë is en waaraan ook Emmerik behoort. Dit het waarskynlik ontstaan deur onderverdeling van die Graafskap Zutphen; die oudste bekende besitter daarvan was Constantinus de Monti (of van den Berg), wat in die jaar 1064 genoem word.
Die grawe was oorspronklik selfstandig en het slegs die Keiser as hul leenheer erken. Maar omdat die gebied geleë was tussen die gebiede van die grotere Gelre, moes hulle langsamerhand hierdie hertog as hul leenheer erken. Hulle het egter ‘n sekere selfstandigheid bewaar onder die sogenaamde “Baanderheeren van Gelre”.
Dit is dus heelwaarskynlik dat alle Van den Bergs hulle oorsprong in hierdie agterste deel van Gelderland gehad het.
Van die vroeëre geskiedenis van die geslag is tot nogtoe nie veel uitgevind nie. Sommige persone beweer dat die van den Bergs in Nederland tot die adelstand behoort het en selfs keiserlike bloed in hulle are gehad het.
So byvoorbeeld was Willem IV, Graaf van den Berg (1537 – 1586) getroud met Maria van Nassau, die oudste suster van Prins Willem van Oranje van Nederland en hy het die hoogste rang onder die Gelderse edelliede bekleë. Na die inname van Den Briel verower hy met ‘n leër van vyf duisend man ‘n deel van Gelderland en Overijssel en probeer ook om Arnhem, Deventer en Utrecht te verower. Hy stuur selfs troepe na Friesland om ook daar die Spanjaarde te verdrywe.
Vier van sy seuns, naamlik Graaf Herman, Graaf Frederik, Graaf Oswald en graaf Hendrik van den Berg het belangrike posisies beklee as leëropperstes onder die Spaanse Kroon.
Die stamvader van die van den Bergs in Suid Afrika was Jakobus van Bergen (van den Berg) wat hier in die Kaap van Goeie Hoop as kadet in diens van die Nederlandse Oos Indiese Kompanje in 1672 gearriveer het. Hy is eers dertig jaar later met Jacomina Caarteniers van Holland getroud.
The following information regarding his death was supplied by Johan Pottas:
Jacobus van den Berg was vermoor in die huis van Catharina Bombam en Robbert Jansz van Hoorn in 1714 deur Jan Adam Peugel, wat hom met ‘n mes ‘n dodelike steek toegedien het, teen die hals. Hy was werksaam by Robbert op die stadium, besig om vir Robbert skoene te maak.
Op 28 Mei 1714 was Metje van Hoorn tuis op die dag toe Jan Peugel daar opdaag, hy het homself aan haar opgedring en haar probeer oorreed om te soen. Die ‘bijsit’ van Jacobus van den Berg, Aale [DR: Aeltie Cornelisz] (Jacomina Carteniers was klaarblyklik reeds oorlede) sê toe aan Peugel: ‘Laat die nonnie met vrede haar werk doen. ‘Peugel reageer op haar antwoord deur Aale teen die grond te gooi en haar te skop.
Jacobus probeer tussenbeide tree en Peugel druk hom agteroor teen teen ‘n stoel vas. Jacobus ruk homself los en gryp toe twee messe van sy werkbank af en sê aan Peugel dat hy na buite moes kom.
Tydens die geveg verloor Jacobus sy balans en hy word dodelik verwond. Terwyl Jacobus op die grond lê rig Peugel toe sy woede weereens op Aale deur haar te gryp en bo-op Jacobus te gooi. Hy skreeu toe vir haar: ‘Lê daar jou verdomde Hoer’.
Daar is ‘n inskrywing op 15 Mei 1714 in die ‘Generale Kassarekening’ van die kerkraad van Stellenbosch vir die begrafnis van ‘Jacobus van den Bergen’ vir f 6.
Op dieselfde dag is daar ook nog ‘n inskrywing vir f 3 vir die begrafnis van een van sy kinders.
In die hofsaak word die datum van die moord gemeld as 28 Mei 1714, so tussen die hofstukke en die inskrywing in die boeke van die Stellenboschse gemeente is daar ‘n twee weke verskil.
Jan Adam Peugel vlug en word skuldig bevind en gevonnis tot verbanning en dat sy eiendom gekonfiskeer word.
Inligting verskaf deur Johan Pottas per epos op 7 Maart 2013.”
In ons land is die nageslag van Jacobus van den Berg baie groot.. Van hulle word genoem in geskiedenis boeke :
- A J van den Berg en sy vrou en vier kinders is by Bloukrans vermoor.
- Berend, Pieter en Pieter van den Berg (jnr.) is saam met Piet Retief vermoor.
- Hendrik van den Berg was teenwoordig by die slag van Bloedrivier.
Bogaande inligting is deur ‘n neef van hom aan my vader gestuur in 1945. Die bron is aan my onbekend en die inligting mag dus nie feitelik korrek wees nie.